Sunday, 26 April 2015

Onderhoud - EKSLUSIEF; Yolande STRAUSS

Yolande STRAUSS
EKSLUSIEF:

Die Mooi En Kleurvolle Sy Van Musiek



In onderhoud met J. J Brits


“DAAR IS FEETJIES, kleine feetjies in my tuintjie en ek wonder wie kan raai waar hulle woon...”
  Sy het al gesing toe sy sewe jaar oud was; ‘n pokkeltjie in ‘n neon-pienk rok op Laerskool Pionier, Volksrust, se verhoog. Dit was haar eerste rol; om die sidekick van ‘n feetjie  te speel. Dié gebore Namibiër kon toe al ‘n noot raak sing.
  Yolande Strauss begin in ‘n jeugkoor sing in Standaard 5 (vandag se Graad 7). Sy vind daar dat die lewe van ‘n koorsanger plesierig is, en ontwikkel ‘n passie vir musiek, kunste en koortoere. Sy presteer goed en word ook aangekondig as Hoofmeisie daardie jaar.
  Sy kies Hoërskool Ermelo, nie asgevolg van sport of akademie nie. Omrede hulle musiek sentrum beter was as al die ander Hoërskool opsies.  En sy sing dat die onderwysers haar in die skoolgange hoor. Maar sy leer ook hard en vorder tot by Unisa Graad 7 vir sang.  
  In graad agt neem sy deel aan Sterre 2000, ‘n liedjieskrywer en sanger  kompetisie. Sy behaal die top 30 met die duet Huis Paleis saam met Helene Basson.
  Tydens haar matriekjaar verbreed haar wêreld. Sy word gekeur as lid van die Nasionale Jeugkoor. Vir die eerste keer sing sy in ‘n koor waar swart mense deel vorm en besef dat die kleur van jou vel geen verskil maak nie – jou ras maak jou nie minder mens nie. Ons is almal dieselfde, ons het enerse issues. Dit was ‘n groot waarmaak oomblik vir haar.
  Sy studeer op Pukke in 1996. B-mus is die gekose rigting, maar sy maak nie haar graad klaar nie. Sy verander na haar eerste jaar van rigting, en studeer Politieke Wetenskappe. Sy studeer vier jaar, maar maak ook nie dié graad klaar nie.
  “Ek het op Universiteit gebly om Alabama te doen,” vertel Yolande. Sy sit gemaklik op ‘n nuut oorgerekte enkelbank wat sy by haar skoonouers ge-erf het. Ons voer ‘n onderhoud in haar musiekkamer, drink masjien cappucino en kyk terug in tyd.
  “Ek was die enigste eerste jaar student in my koshuis wat Alabama gemaak het in 1996. Dit het per toeval gebeur. Ek was laat...wou eintlik aansoek gedoen het vir die studentekoor. Ek het die oudisies met twintig minute gemis! Ek was net betyds vir Alabama oudisies, maar ek het nie geweet wat dit behels het nie. Toe ek hoor daar word gesing, toe bly ek sit. Dit is seker een van die min kere dat ek dankbaar is ek laat was want Alabama het my lewe verander. Dit het my studente jare wonderlik gemaak.” 
  Deur die week loop sy klas, maar in die aande word daar geoefen om naweke en tydens skoolvakansies reg oor die land te toer en konsert te hou. Min weet dat Helene Bester haar toermaat was in haar eerste jaar.
  “Ons het skreeusnaakse dinge beleef op toer,” sê sy met ‘n stoute gelag. “Daar is baie stories, maar die een wat my altyd opval was toe ek ‘n knie operasie moes kry. Daar was nie van afvat en iemand anders wat vir jou instaan nie. Ek was ‘n Alabama lid en moes klaarkom met ‘n been waarop ek nie kon staan nie. Toe word daar gereël dat ‘n lid van die backstage crew my op die verhoog dra. Toe my liedjie klaar is, bly ek op die verhoog agter. Die crew lid het vergeet om my weer te kom haal. Daar staan ek en ek mis die krukke wat ek nie saam met my op verhoog kon neem nie. Ander oomblikke wat ek eerder hervertelling sal spaar het gesorg vir vet pret.”
  Sy ontmoet Mari Laufs in 1997. Min weet hulle tydens die ontmoeting dat hul paaie vorentoe nog vele male sou kruis.
  “Die ouer Alabama lede het gedink Mari was ‘n wilde meisie. Sy moes glo in toom gehou word,” vertel Yolande. “Sy kon sing en goed teater speel, maar sy het die ouer studente senuagtig gemaak.”
   As ouer lid van die Alabama-groep, word die taak toevertrou aan haar om Mari in toom te hou. Hulle word dadelik boesem vriendinne. In 1998 skep hul, en ‘n derde lid Nandie, Die Doringdraadduwwels en voer hul eerste vertoning op die PUK se kampus talentfees. 
   Sy en Herman van der Walt span saam, vorm Ambrosia, en neem twee maal deel aan ATKV se Cresendo.
  In 1999 kom hulle tweede met Herman se oorspronklike komposisie ‘Kaalvoetkind’. Die wenner was Petronel Baard.
  In 2000 vat hul weer die troosprys met Herman se oorspronklike komposisie ‘Pleister’. Dit was die jaar wat Riana Nel gewen het.
  Maar albei jare is musiekvideos vir Geraas gemaak as deel van die kompetisie. TV was deel van die stemproses sodat kykers kon stem vir hul gunsteling.
  Ook in 2000, maar die keer alleen, neem Yolande deel aan Beeld Liedjieskryf kompetisie en kom 2de met haar eie verwerking ‘Jeans’. Mel Botes het die kompetisie daardie jaar gewen.
  “Ek het geen skaamte,” erken Yolande, “om te sê ek het in my lewe al  verloor teen Mel Botes en Riana Nel. Min mense kan dit sê. Sing en optree is vir my so natuurlik soos asemhaal. Sit my op ‘n verhoog en ek voel tuis. Ek neem nie deel aan kompetisies om te wen nie. Ek doen dit omdat dit ‘n geleentheid is om te kan musiek maak voor kenners. Ek sou dit verseker weer doen as ek kon oorkies.”
  Verder word sy deel van twee Johan Vorster musiekproduksies wat hy as student vir die PUK geskryf het. Sy werk by Foschini om haar studies te betaal. In haar vierde Universiteitsjaar werk sy ook as bemarkingsbestuurder vir Alabama en in haar laaste jaar is sy die PRO vir die departement van Kultuur van die PUK.
  Na Universiteit doen Yolande haar eerste eenvrou vertoning getiteld; Blouklip, en voer dit op by Fourways Teater in Pretoria. Die vertoning was uitverkoop.
  In 2003, na verhuising na George, kry sy ‘n oproep uit die blou. Christa Steyn is aan die anderkant van die lyn.
  “Sy’t my CD gehoor by ‘n haarkapper pel van my en van my stem gehou. Kan jy dit glo? Ek was stom. Ek meen, hoe toevallig is dit!”
  Christa Steyn het ‘n sangeres gesoek om een van haar liedjies te sing by Crescendo daardie jaar. Die kompetisie het ‘n verandering ondergaan en die beoordelaars, waarvan Christa een was, moes by ‘n geleentheid optree. Yolande het dadelik ingestem. Sy het die volgende vliegtuig uit George na Pretoria geklim om deel die liedjie ‘Ek wil vir jou’ saam met Christa op te voer.
  “Ek het daar gekom, ons het net een oefening gehad, en toe gebeur dit…” vertel Yolande. “Ons het goed oor die weg gekom, ek en Christa, en die optrede was ‘n groot hoogtepunt.”
  In 2004 word sy weer deur Christa benader. Hierdie keer om deel te vorm van Nagkantoor, ‘n produksie geskryf deur P.G du Plessis  in herdenking aan Koos du Plessis. Sandra Prinsloo het die regie behartig. Vir twee jaar deel sy die verhoog saam met  Christa, Jannie du Toit, Mathys Roets, Mauritz Lotz, Susan Mouton en Charlene Truter.
  Tussen 2005 en 2006 staan sy die skoene vol van koorafrigter by Hoërskool Outeniekwa. Sy en Mari voer ook ‘n nuwe Die Doringdraadduwwels vertoning op in George se Arts Teater, asook in Pretoria. Die vertoning, ‘Vieux Amis’ – wat ‘ou vriende’ beteken - handel oor hulle besonderse vriendskap.
  Sy stig ook haar eie besigheid, Tisco Media, daardie jaar.
  Die jaar 2010 slaan sy nog ‘n gelukkie weg. Sy staan in as tydelike musiekonderwyseres by Laerskool Hoekville, hoor van ‘n sang kompetisie, Avon Voices, en skryf in. Sy wen ‘n vliegkaartjie Parys toe, en is een van slegs drie vrouens uit Suid-Afrika wat internasionaal deurdring.
  Yolande trek net haar skouers op, want hoe kan een mens so gelukkig wees? “Ek het in die Hilton gebly vir vier dae in Parys,” vertel sy. “Ek moes die Beatles se Let It Be opneem om verder deur te dring in die kompetisie, en toe eventueel die top 50 gehaal. Dit was ‘n groot eer.”
  In 2011 verhuis hul Wes-Kaap toe en maak hulself tuis op die kusdorpie van Melkbosstrand. Nog ‘n oproep van uit die blou verander haar lewe.
  “’n Jong vliegskool-eienaar het my gebel in verband met ‘n webtuiste wat ek vir hom moes bou. Toe ons ontmoet, en ek besef dat hy ‘n opname ateljee in sy huis het was ek so stom soos toe Christa my gebel het. Ek en Jandre Spangenberg het eenvoudig geclick. Dit kon nie anders nie, ons het albei kunstenaar-siele. En die res, soos hulle sê, is history…”
  Tans is Yolande ‘n gevestigde lid van Small Room Studio Productions, en het reeds laasjaar in hul Soon To Be Summer Concert haar talent as sangeres verleen. Sy is besig met die opname van haar debuut kort-album onder leiding van Jandre Spangenberg en mede liedjieskrywer J. J Brits. Haar eerste enkelsnit sal later hierdie jaar vrygestel word.
  “Daar is nog soveel in die pyplyn,” vertel Yolande ter afsluiting. “In Maart het ons huiskonsert gehou, ons is tans besig met die laaste oefeninge vir ‘n groot Barnyard produksie saam met onderandere Jandre, Lindi Grobler, Tony Drake, Nicolette en Justin Maree. Saam vorm ons deel van ‘n tien-stuk band wat die 4de Mei by Willowbridge sal optree in samewerking met die Hanno Fourie Trust. Die MC vir die aand is Dowwe Dolla – ons sien vreeslik uit! En Die Doringdraadduwwels is terug met ‘n nuwe show, Moerkoffie, wat die 24ste en 25ste Julie by die Bavaria Teater in Melkbosstrand sal speel, met ‘n oorpspronklike liedjie en storie vertoning wat ek en Jacques geskryf het, Kleurvol, as voorskou.”
  Daar word nie oordryf nie om te sê dat daar nog baie asem in Yolande oor is. 2015 blyk om ‘n jaar van verdere musikale plesier te wees. Nie net vir haar nie, maar vir almal wat deelvorm van haar uitsondelik kunstige wêreld.  
  Die Moerkoffie produksie word ook later hierdie winter in die Suid-Kaap opgevoer.
 Volg Small Room Studio Productions se Facebook blad vir meer nuus oor Yolande Strauss se nuwe kort album en optredes. Volg haar ook op Soundcloud: https://soundcloud.com/yolande-strauss en besoek haar op Facebook: https://www.facebook.com/yolande.strauss?fref=ts




















No comments:

Post a Comment