Wednesday, 22 April 2015

Lirieke - SONG; Gemileo

GEMILEO

Vir Bev

min ken jou met ‘n camel tussen die vingers 
jy, geskuilde kunstenaar                           
met ‘n regisseursraam-bril
gevul met onverpoosde passie
omring deur siele van assosiasie
jou aardse oë het die vermoë om die slimste te kul      

min weet jou pa hy was nie ‘n griek nie 
hoewel jy superstisie soos gips-borde breek
jy glo in liefde en die kosmos
jou verwysing strek verder as grense
jy weet daar is meer 
tot die lewe as net ‘n sondag preek

min hoor snags jou gebede 
jy vra dat die heelal jou sal spaar om te vergeet 
want jy weet 
die lewe het jou iets geleer                     
die lewe het jou vasgehou
deur swaar en deur seer              
                                                
min weet jy droom van digters 
jy het al self na die gawe van klein tyd af verlang
soos Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach
ja, jy die sonvanger 
wat in die kombuisvenster hang

min weet jy het liefgeraak vir die reën 
jy glo in die wolke wat oor die see donderweer
deur moederaarde se voorvaders gestuur
om jou siel en jou tuin en jou huis te seen
jou wereld sal bly vergroot hoe meer jou hart gee



©2015 / J. J Brits

No comments:

Post a Comment